Wednesday, June 11, 2008

Getrou aan jou vrou?

Dit begin so geruisloos. Man en vrou fokus net nie meer genoeg op mekaar nie. Die verskoning is dat daar so baie dinge dinge is wat ons aandag in beslag neem. Die werk, die kinders ... Die lewe se pas is vinnig en besig. Goeie verskonings, maar nie goeie redes nie. Elkeen begin in sy eie rigting beweeg en hulle begin om mekaar stadig maar seker “los te laat”. Dit is die begin van ontrouheid. Om nie meer die ander een genoeg raak te sien, in ag te neem en styf vas te hou nie. Die “eenheid” begin ‘n “tweeheid” word. Wanneer jy nie meer aktief “vashou” nie, begin die loslatingsproses. En die Here spreek die verbondshoof – die man – baie ernstig aan. Ook hier in Maleagi word die einde van hierdie “geweldsproses” beskrywe. Dit is geweld, want ’n eenheid word uitmekaar geskeur! Dit is egskeiding wat deur God gehaat word. Iemand het eendag gesê dat egskeiding soos die dood voel. ’n Ander een het opgemerk. Nee, egskeiding is nie die dood nie, maar die begrafnis van ’n verhouding wat met tyd doodgegaan het. Ontrouheid lei tot geweld en dit bring die dood.

Wat het dit met my godsdiens(my verhouding met God) te doen? Alles. Die implikasie van Maleagi se woorde is dat my kontak met God in gedrang kom, wanneer ek my eenheidskontak met my huweliksmaat begin verwaarloos (ontrou word). Ek mis gewoon die doel wat God vir my huwelik en my lewe as Sy dienskneg gestel het.

Ouderling – jy moet ’n voorganger wees in die wyse waarop jy getrou bly aan jou vrou. Hoeveel tyd maak jy vir jou vrou? Hoe styf hou jy haar vas? Wanneer laas het jy spesiaal aandag gegee aan jou huwelikseenheid ... of beleef jy reeds ’n loslating? Jou lewe en jou bediening moet praktiese antwoorde kan gee aan diegene (in die wêreld / in die wyk / in die gemeente) waar die loslatingsproses van egskeiding reeds begin het.

Bybelgedeelte: 1 Timotheus 3: 2 asook Maleagi 2: 13 - 16

Monday, June 2, 2008

Nie volmaak nie ... wel volwasse in geloof

1Timotheus 3:2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees ...

Die woord wat hier gebruik word impliseer nie “volmaaktheid” by die ouderling nie, want geen mens kan volmaaktheid in hierdie lewe bereik nie. Hierdie woord het die betekenis van: “bo verdenking wees”. Niemand moet oor hom frons of twyfel of ‘n vinger (van beskuldiging) na hom kan wys nie. Selfs die skyn van die sonde mag nie in sy lewe teenwoordig wees nie.

Bybelstudie: Lees Filippense 3: 1 – 16 (Sorg dat jy ook die Nuwe Vertaling lees.)

1 Verder, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid. 2 Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. 3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie; 4 alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. 5 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; 6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. 7 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 11 of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 15 Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. 16 Maar wat ons reeds bereik het—laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees.

Agtergrond: As daar nou iemand was wat op die uiterlike en sigbare kon roem, dan was dit die apostel Paulus. Watter dinge was alles tot sy voordeel as ’n gelowige? (vgl vers 4 tot 6. Hoe sou ons dit vandag kon verreken?). Wat bedoel hy aan die einde van vers 6 met die begrip “onberispelik”? Anders as wat ons sou verwag beskou hy hierdie dinge as iets wat weggewerp moet word – menslike uitwerpsel (drek) - ’n baie sterk woord! Hoekom moet hy nie daarop vertrou nie? Wanneer word hierdie positiewe dinge eerder struikelblokke in ’n mens se geloofslewe? Wat sou hy eerder wens? (vergelyk vers 10 en 11 – Nuwe vertaling). Wat besef hy baie duidelik in vers 12 en 13 en watter ywer en verantwoordelikheid het dit tot gevolg in sy lewe? Vergelyk vers 15 in Ou en Nuwe vertaling. Gee jou eie definisie van wat “geestelike volwassenheid” sou wees.

Oordenking:

My oupa en my pa was vir baie jare ouderling en my ma was op die susterbestuur. Ek het van kleintyd in ‘n Christelike huis grootgeword en het onder ‘n baie bekende professor gekatkiseer, by die PU vir CHO gestudeer en behoort al vir meer as 30 jaar aan die Gereformeerde Kerk. Op die oomblik is ek al 5 jaar agtereenvolgens ’n ouderling. Sê dit enigsins iets van iemand se geloofslewe? As dit die enigste beskrywing is van jou geloofslewe, het jy ’n baie ernstige probleem. Dit is wel positiewe dinge, maar bloot uiterlik. Dit gee geen beskrywing van jou geestelike hartsgesindheid nie. Wanneer die Here oor jou ’n getuigskrif gaan skryf gaan hierdie uiterlike dinge niks tel nie. Dit is voordele, wat ewe maklik struikelblokke kan word. As dit al is waarop jy steun, gaan jy juis daaroor struikel. Hoe staan dit in jou hart? Is jou hart – onberispelik?

Wat beteken dit? Verwag die Here van ons volmaaktheid in hierdie lewe? Nee, dit is nie moontlik nie. Wat wel sigbaar moet word is ons geestelike vordering op die pad van heiligmaking. Paulus gebruik die beeld van ’n atleet wat vorentoe beur – al nader en nader aan die wenpaal. Daar is ’n duidelike doelpunt in sy lewe en gevolglik ook ‘n duidelike strewe / motivering om hierdie doelpunt te bereik. God verwag nie geestelike volmaaktheid in hierdie lewe nie, wel geestelike volwassenheid. Wat is dit? Iemand is geestelik volwasse wanneer hy sy geestelike onvolmaaktheid besef en besig is om iets positiefs daaraan te doen. (Diegene wat net kan roem op positiewe / uiterlike voordele uit hulle verlede sal geestelike onvolwasse bly.)

Onberispelik beteken nie geestelik volmaak nie, maar geestelik volwasse.

Gebed: Here, baie dankie dat U my in U genade gegryp het. Ek is baie beslis nog nie waar ek moet wees nie. Gee asb deur U Gees aan my die fokus op die doelpunt / eindpunt (wenpaal) van my lewe, asook die strewe / ywer om geestelik daarheen te beur. Ek wil as ouderling regtig “onberispelik” in u diens wees. In Jesus se Naam. Amen.

Friday, April 25, 2008

Waar is jou God nou?

In die lig van al die drama en krisisse van ons leefwêreld is daar baie mense wat vra: Waar is God? Hoe kan daar 'n God wees as al hierdie dinge (blaai maar net 'n bietjie deur vandag se koerant) in die wêreld gebeur? 'n God van liefde sal dit mos nie toelaat nie? Het u 'n antwoord op hierdie vraag? Natuurlik moet dit 'n antwoord wees waarin jy self van harte glo - ook as jy by die sterfbed van 'n tweejarige kankerpasiënt staan; of daar waar iemand amper beskuldiging 'n koerantberig in jou gesig druk van die grumoord van 'n familielid. Toe sê my: waar is die God waarin jy glo?

Die gebrokenheid in hierdie wêreld is nie God se skuld nie. Dit wat stukkend en grusaam en hartseer is, is die direkte gevolg van die mens se sondes. Dieselfde sonde van die Paradys wat vandag nogsteeds in hierdie wêreld 'n menslike keuse en 'n hartverskeurende werklikheid is. Mens, - moenie kla nie, want ek en jy is self verantwoordelik vir die gebrokenheid van hierdie wêreld.

En God dan? Waar is Hy? Kan Hy nie iets hieraan doen nie? Is daar ooit 'n God? Ja, daar is 'n God ... en Hy het reeds iets gedoen. Weet jy waar sien 'n mens die God van liefde die duidelikste raak? Daar by die kruis van Golgota waar Hy Sy eie "hart" aan die kruis oopgeskeur het (lees gerus Johannes 3: 16). Daar by die kruis het Sy eie Seun Jesus Christus die skuld vir my sondes gedra. Die kruis vertel ons van God wat nie wegkyk nie, maar Homself met die sondaarmens en sy nood identifiseer. Soos in die Paradys roep God vandag nogsteeds - Waar is jy?

Watter verandering het die kruisdood van Jesus Christus dan gebring? Die wêreld is dan nogsteeds dieselfde. Ja, alles lyk nog dieselfde, maar daar het 'n baie belangrike verandering gekom. God laat nie 'n klomp sondaars toe om weer in die Paradys in te gaan nie - Hy het juis die eerste mense na die sondeval daar uitgestuur en die ingang bewaak (Genesis 3: 24). Hy is egter reeds besig om nuwe mense te maak. Waar gebeur dit? Binne in hierdie stukkende wêreld maak Hy nuwe mense vir wie Jesus (wat opgevaar het na die hemel) besig is om 'n plek gereed te maak. Die doodsmoment (loslating van hierdie wêreld) mag dalk grusaam en hartseer wees (van hierdie kant gesien), maar die tuiskoms by die Here (van die ander kant gesien) is heerlik en kosbaar. Sy nuwe mense word deur die dood heen - na Hom geneem.

Hierdie perspektief vra natuurlik GELOOF. Glo jy dat God steeds werksaam is ... selfs in die midde van 'n grusame en hartseer werklikheid?


Monday, April 21, 2008

Die voorbeeld van andersheid

Teen die somber agtergrond van die swaar tye van die "laaste dae" (2 Timotheus 3: 1) moet die lewe van God se kinders (en verseker hulle leiers / toerusters) 'n totale "andersheid" vertoon. Is daar regtig so 'n radikale "andersheid" sigbaar in Christene se lewens vandag? Word dit veral sigbaar in die lewe van Christen-leiers? Juis as gevolg van hierdie anders-wees sal Christene verseker die spot en selfs vervolging van die wêreld verduur. Dit is presies wat reeds in sommige wêreldlande met Christene gebeur. Die eerste rimpeling kan ons ook reeds in ons eie midde begin voel. Waar kom hierdie "andersheid" van die Christen vandaan? Dit is gegrond op 'n lewensbeskouing wat van kleintyd reeds deur Christenouers in hulle kinders se lewens vasgelê word (Vergelyk Deuteronomium 6). 'n Lewensbeskouing wat gegrond is op die Bybel as die geopenbaarde Woord van die Almagtige God. Hulle wat die Bybel as God se Woord aanvaar word daardeur toegerus om hulle hele lewenswyse daarvolgens in te rig.

In hierdie laaste dae waarin wêreldse mense hulle eie begeertes soek en passievol najaag, moet God se kinders opnuut weer die Woord van God as lewensanker en lewenskompas gebruik. Die negatiewe reaksie uit die wêreld, wat selfs vervolging sal insluit, moet ons nie van koers dwing nie. Die leiers wat hierin moet voorloop moet 'n duidelike pad (en voorbeeld) wys.

Bybelgedeelte: 2 Timotheus 3: 1 - 4: 5

Sunday, April 20, 2008

Horlosietyd - geleentheid - prioriteit

Hierdie is 'n ernstige saak. Ons moet ons ore spits. Dit is 'n saak wat "op die hart gedruk word" (Efesiërs 4: 1) en wat met 'n beroep "in die Naam van die Here" (5:17) oorgedra word. Dit kom van God Self. Wat wil die Here sê? God wil dat Sy kinders baie goed moet nadink oor die manier waarop hulle elke dag lewe. Hulle moet nie lewe soos diegene wat die Here nie ken nie (die manier van doen van die meerderheid?), maar hulle moet baie goed nadink oor elke tree wat hulle elke dag gee; elke gedagte wat hulle elke dag dink en elke daad wat hulle elke dag doen. Ons moet onthou dat die Here nie bloot net horlosietyd aan Sy kinders gee nie. God se kinders ontvang "geleentheid" (5: 16). Wanneer ons tyd sien as - geleentheid (geleende tyd?), dan moet ons ernstig strewe om uit te vind hoe ons elke geleentheid wat God aan ons gee moet volmaak. En om dit te doen kan 'n mens nie maar voortstorm deur die dag nie (op sleeptou geneem word deur mense en dinge wat jou oorrompel en gevange-neem). Jy sal moet tydmaak om te hoor wat God sê en dan met gefokusde aandag doen wat Hy vra. Die geleentheid wat God aan ons gee om vandag horlosietyd te hê, vra die prioriteit van stilword voor Hom. Dit is wat dit beteken om "verstandig" te lewe (5: 15;17). Iemand wat nie so 'n prioriteit het nie, beleef sy horlosietyd nie as God se geleentheid nie. Dit is die definisie van 'n "onverstandige lewe".

Bybelgedeelte: Efesiërs 4: 1; 17-22; 5: 15-17

Wednesday, April 16, 2008

God se werk en my gerief

Hy was heeltemal tevrede met sy lewe en het die rustigheid beleef om so van die kant af te sien wat die profeet Jeremia doen. Wel betrokke by die saak van die Here, maar so op 'n afstand. Ek praat nou van Baruk - die sekretaris van Jeremia (Jeremia 45). Maar sy lewe het oornag heeltemal verander. (Vir die storie agter die storie moet jy nou Jeremia 36 gaan lees).

Baruk die sekretaris het Baruk die prediker geword. En sy lewenskrisis het begin. Sy lewe het ook nou (soos die lewe van die profeet Jeremia) vol ongemak en drama geword. Ook hy moet nou vir sy lewe vlug. En hy kla steen en been (sien vers 3). Hoe kan die Here hom nou uit sy gemaklike bestaan losruk en hom ook nou in die spervuur van die bediening ingooi? Hy (Baruk) sou verkies dat God dit nie doen nie. Klink dit bekend? Om 'n hoofpawiljoen-sitplek (losie?) in die koninkryk te hê en so op 'n afstand waar te neem wat God besig is om te doen. Gemaklik ... naby.

Die Here stuur spesiaal vir Baruk 'n boodskap deur Jeremia. Is Baruk regtig bewus waarmee God besig is? God maak as't ware Sy hart oop vir Baruk. Hy is besig om dit wat vir Hom die kosbaarste is (Sy uitverkore volk) op te offer. God is besig om die hele wêreld vir Sy finale oordeel gereed te maak. Kan jy insien hoe "ongerieflik" dit vir God is? En Baruk kla oor homself? Dit kan mos nie! Hoe kan die gerief van my eie aardse lewe belangriker wees as God se werksaamheid in hierdie wêreld? Hoe kan ek die Here vra om met Sy dinge aan te gaan en my maar net gerieflik - uit te los. As die Here jou vanaf die pawiljoen roep om op die veld te verskyn - kan jy weier? Wat is jou verskoning?

Is ons regtig bewus van die erns van die tyd waarin ons lewe? Is ons regtig bewus van wat God besig is om te doen? By die kruis van Golgota maak God Sy hart oop om vir ons te wys hoe ernstig Hy betrokke is in hierdie sondewêreld. En wat nou van my? In die koninkryk van God is daar nie pawiljoen-sitplekke vir Sy kinders nie - die kerk van Jesus Christus is ook nie 'n losie op die hoofpawiljoen nie. God se kinders is op die veld.

Miskien lyk die telling op die telbord nie te waffers nie - en miskien is ons reputasie van die afgelope tyd maar effens flou (of moet ek sê blou). Hou vas aan God se belofte (sien vers 5b) en meld op die veld aan. As ouderling is jy een van God se impakspelers wat juis nou 'n verskil moet maak.

Bybelgedeelte: Jeremia 36 en 45

Die rede vir leierloosheid

Die eerste 8 verse van Jesaja 3 gryp 'n mens diep in die hart. Letterlik alles ('n hele gemeenskap en hulle hele bestaan) stort in duie wanneer God die leierskap wegneem. Die gevolge is duidelik en tasbaar bekend. Is dit nie juis wat ons op die oomblik in Suid Afrika beleef nie.? Maar - hoekom doen die Here dit? Omdat die volk (onder leiding van hierdie leiers van hulle?) die pad van die Here verlaat het. Hoe kan die Here toelaat dat so 'n samelewing voortgaan op die verkeerde pad?

Ons kan sekerlik baie sê oor die huidige samelewings- (lees: leierskrisis) wat ons op die oomblik beleef. Dit is lagwekkend - of is dit hartseer hoe onvolwasse kinderagtig en wispelturig die leierskap optree. Dit wil voorkom asof ANC nou staan vir Another National Crisis. Ons kan ook baie emosioneel raak oor die ineenstorting van hierdie samelewing waarin ons woon, maar wag eers ... blaai net eers een bladsy terug. Hoekom is dit so? Hoekom het die Here toegelaat dat hierdie dinge gebeur het? Daar is 'n duidelike antwoord in Jesaja 3. Voordat ons vingers uitsteek wat na ander wys, moet ons eers hand in eie boesem steek.

Bybelgedeelte: Jesaja 3

Waar kom leiers vandaan?

In 'n tyd van leierloosheid (koning Ussia is dood) het die Here aan Jesaja verskyn (Jesaja 6). Die verskyning van die heilige God het hierdie sondaarmens ineen laat krimp. Hy besef nie net sy eie sondigheid nie maar bely onomwonde dat hy ook deel is van 'n volk wat deur en deur sondig is. Dit is die beginpunt van ware leierskap ... om jou kleinheid voor die grote God te besef! Dan ontvang Jesaja God se genade. Sy sonde word weggeneem. Dit is die Evangelie (die Goeie Boodskap) wat via die kruis van Golgota oor hierdie wêreld verkondig word. So lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy Seun gestuur het (Jesus Christus) sodat almal wat glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3: 16). Maar wat gebeur dan met diegene wat God se genade ontvang? Luister na God se roepstem: - Wie sal Ek stuur? Dadelik het Jesaja geantwoord: Hier is ek - stuur my.

Hy wat die betekenis van sy verlossing verstaan is dadelik gereed om sy roeping te vervul. God roep diegene wat Hy verlos en Hy gebruik hulle in Sy diens. Gaan lees weer Jesaja 6: 9 - 13. Wat 'n ernstige boodskap. Genadetyd is verby! Diegene wat nie wou hoor nie sal nie meer kan hoor nie. Diegene wat nie wou reageer nie, sal nie meer kan reageer nie. In tye van leierloosheid roep God Sy leiers om 'n baie ernstige boodskap na die wêreld te neem.

Bybelgedeelte: Jesaja 6: 1 - 13